Dear South Africa… ‘n brief van Jana Niehaus

/, pain and Hope, South Africa, things to wrestle with, thorts of other people/Dear South Africa… ‘n brief van Jana Niehaus

Dear South Africa… ‘n brief van Jana Niehaus

Liewe Afrikanermense in Suid-Afrika,

Ek het nou onlangs terug gedink aan ons laerskoolklas wat elke Vrydag na tweede pouse vir twee periodes (met ander woorde ’n volle uur lank) sangklas gehad het. Gegewe die spesifieke uitdagings hieraan verbonde, kan ‘n mens dus nie ons musiekonderwyseres kwalik neem dat sy dikwels gekies het om ons na stories op langspeelplate te laat luister in plaas daarvan om ons aan die sing te probeer kry nie… Die enigste langspeelplate wat beskikbaar was in die sangklas was Afrikaner “heldeverhale”. Dit was die tipe stories wat gedateer het uit oorlogsjare en heldeverhale van verskeie Afrikaners in noue ontkominge vertel het…Die meeste van ons is bekend met hierdie stories van lank gelede.*

Baie jare later, en met groot ontnugtering, het ek bewus geword van die groter konteks waarteen hierdie stories afgespeel het, en dat sommige helde nie onthou word vir die feit dat hulle lewens gered het nie, maar vir die feit dat hulle lewens geneem het.

Geldig of nie, op feite gebaseer of fabels, op geregtigheid of ongeregtigheid – ek was te jonk in die sangklas om te kon onderskei. So deur die gereelde luister na hierdie stories in die sangklas is daar vroeg in my lewe ’n storielyn gevestig dat Afrikanermense dapper is – onverskrokke in die konfrontering van uitdagings, nood en krisis. Mense wat moed skep wanneer ander sal opgee. Mense wat met heldemoed in n situasie sal instap, sal bly en sal aanhou probeer.

Daar was baie tye in die geskiedenis van Suid-Afrika wat moed besonder nodig was. Moed om die regte besluit te neem. Moed om foute te erken. Moed om die tuig neer te lê en mag oor te gee. Soms het ons moed gehad, en soms nie. Soms het ons dit laat blyk of ons moed het, maar die moedige optrede was eintlik maar ’n sluier vir diepliggende vrees of dalk selfs lafhartigheid.

Ek glo dat 2018 weereens so ’n tyd in die storie van Suid-Afrika gaan wees. Die uitkoms gaan afhang van die manier waarop ons gaan kies om moedig te wees. Om waarlik moedig op te tree is moeilik en kos meestal baie, want onverskrokke moed lê nie in die neem van lewens nie, dit lê in die gee van onsself (so aangrypend en radikaal gedemonstreer in die storie van Jesus van Nasaret).

Wat is die heldeverhale wat ons nasate oor ons generasie gaan vertel? Hoe sal dit lyk as ons in 2018 ware, radikale moed kan hê? Ek dink onverskrokke moed vra dat:

  • Ons sal aanhou luister na mense wat anders dink as ons – en ten volle teenwoordig bly in sulke gesprekke selfs al word dit ongemaklik.
  • Ons sal aanhou glo dat niemand deur slegs een storie gedefinieer word nie.
  • Ons sal aandag te skenk aan die lewensrealiteit van ander mense in ons land, in plaas daarvan om net behep te wees met ons eie gemak en veiligheid.
  • Ons nie sal wegdraai en in ‘n ander rigting kyk wanneer ons swaarkry sien nie – dat ons sal bly todat ons hoop en menslikheid vind in die oë van dié wat swaarkry.
  • Ons sal luister met nuuskierigheid om te leer van almal wat hier woon – selfs al dink ons hul kan ons niks leer nie en selfs al verskil ons opinies – en so sal oop wees om verras te word deur die wysheid, menslikheid en liefde ander.
  • Ons sal meesters raak in die verstaan van mekaar, eerder as om onsself te probeer verdedig.
  • Ons volstrek sal weier om aan te hou praat in terme wat verwys na “ons” en “hulle” en met vasberadenheid die (somtyds onsigbare) skeidings te oorbrug wat daar bestaan in ons gebroke samelewing.

Sien, hierdie tipe moed maak ons mens.

Nie net maak dit ons mens nie, maar dit maak ander ook mens.

Onverskrokke moed is om menslikheid in mekaar te erken en eer.

Kom ons stap 2018 binne as mense met radikale moed.

*Hierdie stories het vir seker hul doel gedien in die versterking van ’n Afrikaner identiteit wat gebaseer was op dit “waarteen” ons was en dus wil ek dit ten sterkste stel dat my doel in die noem van hierdie stories geensins daarin rus om hierdie spesifieke stories op te hef nie. Ek verstaan nie meer op hierdie stadium van my lewe heldemoed of dapperheid as enige aksie wat die lewe of lewenskwalitiet van ander wegneem nie.

[Vir meer ‘Dear South Africa’ stories, kliek hier]

About the Author:

Brett Fish is a lover of life, God, tbV [the beautiful Valerie] and owns the world’s most famous stuffed dolphin, No_bob (who doesn’t bob). He believes that we are all responsible for making the world a significantly better place for everyone.

One Comment

  1. […] An Afrikaans brief deur my vriend Jana Niehaus aan Afrikanermense in Suid Afrika […]

Leave a Reply

%d bloggers like this: